Die Uitnemendheid van die SA Weermag, met Spesifieke Verwysing na my Termyne as Hoof van die SA Weermag, Hoof van die SA Leër en Bevelvoerende Generaal Spesiale Magte

deur

Genl. Kat Liebenberg SSA, SD, SOE, SM, MMM

Algemeen

1. Alreeds teen die middel tagtiger jare het vorige oningeligte politici en veral anti-regeringsgesinde media begin verwys na die sogenaamde sekurokrate. Bewerings het gewissel van sogenaamde insette wat deur die sekurokrate agter die skerms aan veral Mnr. P.W. Botha gegee is, en dat die land eintlik regeer is deur die sg sekurokrate.

2. Hierdie bewerings was belaglik, en ek wil graag kortliks hierop uitbrei. Die SAW was, en is nog steeds soos die geval in enige land te wêreld, een van die belangrike magsbassisse tot die beschikking van die staat/regering om sy staatkundige- of regeringsdoelwitte te bevorder of te bereik. Dit bly altyd die regering se prerogatief om te bepaal welke magsbasis wanneer aangewend moet word en ook teen watter profiel dws teen 'n hoë of lae profiel.

3. Ek glo nie dat die besluit van die SA Weermagsbetrokkenheid by WOe I en II, asook ons deelname aan die Koreaanse konflik, juis op hierdie basis geneem is nie, inteendeel, dit was eerder gedoen nav wat Brittanje en later die Statebond van SA verwag het om te doen.

4. In meer resente tye was die aanwending van die SA Weermag direk of indirek, egter te alle tye 'n regeringsbesluit met spesifieke regeringsdoelwitte ten doel. 'n Paar voorbeelde is soos volg:

a. Betrokkenheid in die middel sewentiger jare in Angola. Weëns die beperkte internasionale handelingsvryheid waaroor die RSA regering toe beskik het, was die aanvanklike ontplooiing klandestien van aard. Die regerings- of politieke doelwit met Operasie Savannah was egter ongetwyfeld om te verhoed dat die marxistiese MPLA regering in Angola aan bewind bly. Dit was beslis nie 'n militêre ekskursie van die destydse opperbevel nie, maar 'n regeringsbesluit.

b. Die ondersteuning, meestal indirek en klandestien van aard wat aan die Portugese in Angola en Mosambiek verleen is, asook aan die destydse Rhodesië na die eensydige onafhanklikheidsverklaring, was alles daarop gemik om nie-marxistiese bufferstate so lank as moontlik rondom die RSA te behou. Weereens regeringsbesluite met politieke strewes en beslis nie militêre ekskursies deur sg sekurokrate nie.

c. Die ontplooiing van die SAW in SWA. Dit het uit die aard van die saak ten doel gehad om te verhoed dat SWAPO die destydse SWA deur wapengeweld oorneem.

d. Die SAW ondersteuning aan UNITA in Angola en aan die RNM in Mosambiek was weereens weens die beperkte internasionale handelingsvryheid waaroor die RSA beskik het, meer klandestien van aard. In beide gevalle was dit egter onomwonde die gevolg van regeringsbesluite wat ten doel gehad het om gematigde nie-marxistiese regerings aldaar aan bewind te kry, of ten minste om hierdie lande te oorreed om nie steun te te verleen aan rewolusionêre organisasies wat teen die RSA opgetrek het nie.

e. Die ontplooiing van die SAW vir RSA grensbeskerming en aanwending teen MK en APLA in buurstate spreek vanself.

f. Die SAW se binnelandse aanwending vir die bekamping van onrus- en onlussituasies was in hoofsaak ter ondersteuning van die SAP. Die SAW en by uitstek die SA Leër, het egter ook 'n uiters belangrike bydrae gelewer tot die Gesamentlike Veiligheidsbestuurstelsel, veral op streekvlak. Die GBS grense op streekvlak het in hoofsaak ooreengestem met dié van die SA Leër se kommandementsgrense. Hierdie stelsel is deur die SA regering ingestel en op streeksvlak is die voorsitters op 'n demokratiese wyse deur die aangewysde verteenwoordigers van die onderskeie departemente verkies. Die SA Leër kommandementsbevelvoerders is met enkele uitsonderings as voorsitters verkies. In die geval van die Noord Kaap byvoorbeeld was die SAP bevelvoerder van die streek as voorsitter verkies. Die Staatspresident het per aanstellingsbrief die verkose voorsitters bevestig en 'n direktief aan hulle gegee. In hierdie hoedanigheid het die kommandementsbevelvoerders 'n ontsaglike bydrae as voorsitters van die GBSe gelewer, en so ver as moontlik verseker dat interdepartementele optredes op streeksvlak gekoördineerd plaasvind. In hierdie opsig is daar noodwendig soms op die tone van ander departemente getrap in uitvoering van opdragte. Daar is nie op lynfunksie-uitvoering ingemeng nie, maar weens die pligte van die voorsitters moes daar op lynfunksie-"nalatings" aan die NGBS gerapporteer word aangaande sloerdery en nie-uitvoering deur ander departemente. Sulke optredes is deur sommige amptenare en sekere politici gesien as inmenging in hul lynfunksies en kon aanleiding gegee het tot die wanopvatting dat die SAW "inmeng" in die sake van ander departemente en 'n te groot leidende rol wou speel. Die kommandementsbevelvoerders het hulle egter uiters goed van hul taak gekwyt en het net hul opdragte uitgevoer. Uit my eie ervaring eers as H Leër en later as H SAW moet ek sê dat die enkele amptenare en politici wat ek hieroor hoor kla het, in elk geval diegene was wat nie hul take in die Gesamentlike Bestuurstelsel-verband wou of kon uitvoer nie.

6. Die "cliche" van sekurokrate wat die land wou bestuur, of probeer bestuur het, is myns insiens ongegrond en onverdiend. As ons aan iets skuldig is, dan is dit dat ons ons opgelegde take tot die beste van ons vermoëns probeer uitvoer het , en daaroor voel ek nie skuldig nie, maar beslis baie trots.

Die SAW het baie om op trots te wees

7. Die SAW het veel meer om op trots te wees as om oor skaam te wees. Hoekom? Ek kan nie dink aan 'n rgeringsopdrag wat ons nie militêr tot bevrediging uitgevoer het nie, letterlik van skaap- en water aanry, tot konvensionele oorlogvoering.

8. Maar ter opsomming, kom ons kyk na so bietjie meer detail:

a. Spesiale Magte Watter lande in die wêreld beskik in hul Spesiale Magte oor dit wat ons beskik het?

i. 'n Landwaartse-, lugwaartse-, seewaartse- en pseudo-vermoö, en alles onder een beveel wat ons besonderse buigsaamheid, samehorigheid en aanwendingsmoontlikhede gegee het. Voeg hierby noue ondersteuning van die SA Leër, SALM, SA Vloot en SAGD. Dan is dit geen wonder dat menige buitelandse professionele offisiere dikwels vir my as BG Spes Magte gesê het: "Ons kan alles verstaan, maar ons kan nie begryp hoe julle oor hierdie lang afstande suksesvol eksfiltreer nie".

ii. Ons mense-materiaal met die durf, inisiatief, verbeeldingrykheid en deursettingsvermoë wat deur die leierelemente en operateurs van SA Spesiale Magte oor die jare en tydens vele operasies aan die dag gelê het.

iii. Operasies van Spesiale Magte word nie wêreldwud verkondig nie, maar ek twyfel of daar enige ander Spesiale Magte ter wêreld is wat sedert die laat 70s tot einde 80s soveel operasies uitgevoer het soos die RSA Spes Magte.

iv. Die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) is al afgekraak en sal seker nog verder afgekraak word. Maar ek dink dit is hoog tyd dat iemand opstaan en die uitstekende werk wat hulle verrig het ook uitlig. Indien dit wel volgens mediaberigte so is dat van hulle gefouteer het en om amnestie aansoek gedoen het wil ek nie nou daaroor kommentaar lewer en sodoende onbehoorlik in die regsproses inmeng of hulle amnestieverhore beinvloed nie.

v. Wat 'n uitsonderlike magsvermenigvuldiger was Spes Magte nie net vir die SAW nie, maar vir die RSA regering met sy beperkte internasionale handelingsvryheid van die verlede. Die helde word egter nie onthou en bygestaan nie. Vandag word hulle ongelukkig byna as 'n sinistêre organisasie van die verlede beskou wat weggesteek moet word.

b. Die SA Leër Ek wil net 'n paar aspekte beklemtoon en ek praat nie van kwantiteit nie, maar van kwaliteit. Watter Leër in die wêreld kan spog met:
i. Nie net die kwaliteit van ons menslike hulpbronne nie, maar veral die samestelling daarvan, nl. Blank (verskillende taalgroepe), Swart (verskillende taalgroepe), Bruin, Boesmans, Angolese, ens. Die diversiteit in aanwendingsmoontlikhede was legio.

ii. Watter leër kon junior leiers slegs een jaar nadat hulle die skoolbanke verlaat het, operasioneel aanwend as pelotonleiers en troepbevelvoerders? Soms het hulle direk in die buiteland tydens operasies hul bevel oorgeneem. Die gehalte van ons junior leiers was sonder weerga.

iii. Watter leër se deeltydse magte (BM en kommando's, dienspligtiges en vrywilligers) het die opoffering gemaak en gevolglike ondervinding opgedoen wat die SA Leër se deeltydse komponent ervaar het? Ek praat nie eens van die permanente lede nie.

iv. Watter leër oor die afgelope paar dekades was gelyktyig verantwoordelik vir, en betrokke in:

(1) Grensbeskerming oor afstande van die RSA landsgrense se omvang.

(2) Ondersteuning aan die SAP vir binnelandse onrus-/onlusbeheer.

(3) 'n Leidende rol in die binnelandse GBS stelsel (GBSe, sub-GBSe, Mini-GBSe en PBSe.)

(4) Teen-insurgensie operasies binne SWA gebied en in die Suidelike Kunene Provinsie van Angola.

(5) Konvensionele operasies in SO Angola.

DIE SA LEER WAS VIR GERUIME TYD GELYKTYDIG BETROKKE IN AL HIERDIE TAKE! en die SA Leër het hom uitsonderlik goed gekwyt van sy taak in al hierdie fasette.

c. Die SA Weermag Afgesien van die outonome take van die ander Weermagsdele (waaroor ander sprekers sal uitbrei), kon Spes Magte of die SA Leër beslis nie hul take uitvoer, sonder die uitmuntende ondersteuning van die SALM, SA Vloot en SAGD nie.

Slot

9. Ten slotte wil ek graag net 'n paar punte beklemtoon.

10. Die SA Weermag was 'n instrument van die staat of regering en as sulks een van die belangrike magsbasisse tot die beskikking van die regering om sy doelwitte te bereik en te bevorder. Die SA Weermag is as sulks gebruik.

11.Die SA Weermag het die staat gedien en as sulks ook die regering van die dag. Die SA Weermag het nie 'n politieke party gedien nie en het ook nie apartheid verdedig nie. Inteendeel, die SA Weermag was die eerste department wat die sg klein apartheid verontagsaam het en wel tot so'n mate dat ons dikwels hieroor gekritiseer is deur sekere politici.

12. Die SA Weermag het sy taak in SWA/Namibië en in die RSA suksesvol verrig. Ons breë taak in hierdie verband was tog om te verseker dat die twee lande nie deur wapengeweld oorgeneem word nie, en dat die veiligheidsituasie so gehandhaaf moes word dat politieke en staatkundige ontwikkeling op 'n demokratiese wyse kon voortgaan. Of ons hou van die politieke bestelle wat op 'n demokratiese wyse tot stand gekom het in SWA en in die RSA, is nie nou ter sprake nie. Dit was die taak van die politici. Die SA Weermag het egter sy taak suksesvol uitgevoer en is beslis nie verantwoordelik vir die uiteindelike politieke oplossings in die twee lande nie!

13. Dit is net jammer dat die SA Weermag nie vandag die erkenning kry vir alles wat hy gedoen het nie. Inteendeel, ons moet vandag in lugverkoelde sale aan leke op militêre gebied verduidelikings gee oor beslissings wat in die hitte van die stryd en onder groot druk geneem moes word. Ironies genoeg, kom die druk vir optrede teen die ou SAW en sy lede nie van ons vorige gewapende opponente nie, maar eintlik van hul makkers en humaniste wat nooit in hul "stryd", 'n skoot afgevuur het nie!!!

14. Iemand het onlangs gesê "die helde van gister kan maklik die skurke van vandag wees". Dit is die pad wat die humaniste wil hê ons vorige leiers in die SAW moet loop. Dit gaan egter nie so maklik gebeur nie.

15. Ek staan versoening voor, daaroor moet daar geen twyfel wees nie. Ek het egter nie aansoek gedoen om amnestie nie, omdat die vrywaringswetgewing nie net ongrondwetlik is nie, maar ook partydig is teen die ou veiligheidsmagte.

16. Ek aanvaar egter volle verantwoordelikheid vir optredes wat op my bevele, direk of indirek geneem is. Almal wat onder my bevel gedien het kan hierop staatmaak. Ek sal ook elke oud SAW lid ondersteun wat in goedertrou opgetree het sonder bevele, al het hy 'n oordeelsfout begaan. Ek kan egter nie, en sal nooit, instaan vir iemand wat vir eie gewin opgetree het nie.

17. Ek sê vir u, Sterkte vir die pad wat voorlê! Ons het baie om trots op te wees. Vir my was dit 'n eer om in die SAW te kon dien, en 'n voorreg om bevel te kon voer oor so 'n uitmuntende organisasie!

Return to Main Page.